ʼn Afrikaanse skool kan stééds in ʼn oogwink deur ʼn provinsiale onderwysdepartementshoof tot ʼn meertalige skool verklaar word as die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) in sy formaat soos aanbeveel deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) gestalte kry.

Daarom bly Solidariteit ten sterkste gekant teen die wysiging van artikels 5 en 6 in die Bela-wysigngswetsontwerp wat oor skole se taal- en toelatingsbeleid handel.

Volgens Johnell Prinsloo, onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, bring die jongste aanpassings beslis nie verligting nie en kom dit uiteindelik steeds neer op presies dieselfde onheil.

“Selfs al lui die jongste aanpassings dat beheerliggame die skool se taal- en toelatingsbeleide self mag opstel, trek ʼn ander bepaling ʼn streep daardeur.

“Die regering skep die indruk dat beheerliggame hierdie magte self sal kan uitvoer, maar stroop die waarde daarvan deur aan ʼn hoof van die onderwysdepartement (HOD) en ʼn LUR vir onderwys die mag te gee om eensydige en afdwingbare besluite daaroor te kan neem,” sê Prinsloo.

Ingevolge Bela kan die departementshoof, waar dit volgens hom of haar as prakties en uitvoerbaar beskou word, ʼn openbare skool beveel om meer as een onderrigtaal te aanvaar.

Prinsloo vra of dit regtig dan gesê kan word ʼn beheerliggaam stel sy eie taalbeleid op as dié beleid eenvoudig daarna deur die departementshoof verander kan word.

“Wat beteken die selfstandige opstel van beleid dan hoegenaamd as ʼn regeringsamptenaar dit na eie goeddunke kan verander of ongedaan maak? Sou die skool teen die verandering appelleer, is al wat die LUR boonop hoef te doen is eenvoudig om die skool van sy of haar besluit in die verband in te lig,” sê Prinsloo.

Solidariteit sê alhoewel die gekose komitee van die NRP die wysingswetsontwerp nou finaal verwerk het en die NRP eersdaags daaroor sal stem, die geveg teen Bela nou maar eers begin het.

“Ons sien presies deur hierdie aanpassings, want die gevolge daarvan bly dieselfde. Die regering het volgens die wysigingswetsontwerp die laaste sê oor taal en toelating by skole, en dit kan maklik as ʼn ideologiese wapen teen Afrikaanse onderrig gebruik,” sê Prinsloo.

‘Toegewings’ aan BELA-wetsontwerp bied geen gerusstelling

AfriForum vind ook geen gerusstelling in die gewysigde weergawes van die Bela-wetsontwerp nie. Dié burgerregtewaghond gaan dus voort om vir regsaksie voor te berei indien die wetsontwerp aanvaar sou word.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof vir kultuursake, is AfriForum se kernbeswaar steeds dat die provinsiale onderwyshoofde die reg het om oor toelatings- en taalbeleide te besluit. Indien die beheerliggame nie met sodanige besluite tevrede is nie, kan hulle na die LUR appelleer, wat beteken dat die hoogste gesag steeds by ’n politieke aanstelling sal berus.

Soos AfriForum tevore aangedui het, beweer die departement van basiese onderwys gereeld dat beheerliggame kinders kwaadwillig en wederregtelik uitsluit. Waar bewerings teen spesifieke skole gemaak is, soos in die geval van Hoërskool Overvaal, het die howe ná lang en duur regstryde bevind dat die departementele bewerings ongegrond was.

“Ons vra die departement gereeld vir voorbeelde van uitsluiting en bied aan om die sogenaamde kwaadwillige optrede van skole te help ondersoek en omkeer, maar die departement bly in gebreke om spesifieke skole te noem. Ons kan wel skole noem wat oorvol is of verengels het weens departementele inmenging en druk op skoolgemeenskappe en -personeel,” sê sy.

“Die kernprobleme, naamlik dat die regering magshonger is en namens ouers oor hulle kinders wil besluit, asook dat daar ’n algehele onvermoë by die departement bestaan om voldoende skole vir die land se kinders te bou, word nie aangespreek nie. Die omstrede dele van die Bela-wetsontwerp wat met beheerliggame se besluitnemingsmagte en ander aspekte soos tuis- en mikroskoolonderrig handel, word nou ingesluit om die monde te snoer van mense wat hierdie probleme probeer uitwys en aanpak,” sê Bailey.

By admin

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *