Suid-Afrika se Jasper Wiese op volle vaart in die Wêreldbeker-wedstryd teen Ierland. (Foto: Matthieu Mirville/DPPI via AFP)

Volgens Gordon D’Arcy kan die Springbokke gasheer vir ʼn tam Ierse rugbyspan speel.

Die tafel is gedek vir ʼn rugbyskouspel tussen Suid-Afrika en Ierland op Loftus Versfeld en Ierland. Daar is ontleders wat meen dat die wedywering tussen die twee rugbylande al amper in dieselfde asem as die Bokke se armdruksessies met die All Blacks genoem kan word.

Maar D’Arcy meen dat die Sesnasiesreeks dalk sy tol op Ierland geëis het.

Peter O’Mahony se span het weliswaar die silwerware ná vyf wedstryde omhoog gehou, maar hulle het ʼn onverwagse spoedwal teen Engeland op Twickenham getref.

D’Arcy meen dat ʼn mens in die pylvak van die toernooi kon sien dat Ierland nie meer heeltemal op alle suiers gevuur het nie.

“Futloos is dalk die verkeerde woord om te gebruik, maar ʼn mens het baie van dieselfde spelers in dieselfde wedstryde gesien. As die Sesnasies een of twee rondes langer was, sou hulle moontlik nie staande gebly het nie,” het die 44-jarige oudspeler gesê.

“Ek dink Ierland kan moeg wees wanneer hulle na Suid-Afrika toer. Maar in dieselfde asem is daar ook ʼn paar nuwe gesigte in die groep en ons spog met briljante afrigters.”

In Andy Farrell het die Iere inderdaad ʼn uitgeslape breier en hy het die Wêreldbeker-tweestryd teen Rassie Erasmus en kie gewen.

Ierland het die Bokke met 13–8 op die Stade de France gewen; tog was dit Siya Kolisi wat uiteindelik die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het.

Farrell het juis vantevore erken dat daar min dinge in wêreldrugby is wat vir groter opwinding as ʼn paar toetse teen die Springbokke in Suid-Afrika sorg.

“Jy wil jouself teen die beste meet en Suid-Afrika is 100% die beste. Dit beloof om ʼn taai toets te wees – ons kon nog net een keer daar wen – maar dit kan wondere vir die span se ontwikkeling beteken,” het Ierland se hoofafrigter gesê.

Springbok-toetse teen Ierland

Saterdag 6 Julie: SA vs. Ierland (Loftus Versfeld, Pretoria)

Saterdag 13 Julie: SA vs. Ierland (Kingspark, Durban).

By admin

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *