ʼn Passievolle gesprek het Woensdag by die Suidoosterfees plaasgevind oor die Afrikaans Amptelik 100-feesviering wat op 8 Mei vanjaar afskop.

Die debat, gelei deur RSG-omroeper Martelize Brink, was deel van die Jakes Gerwel-gespreksreeks by die Suidoosterfees in Kaapstad. Saam met haar in gesprek was bekroonde digter en uitgewer Melt Myburg (ook ontwikkelingstrateeg van die Suidoosterfees), KSUT-dosent Earl-Ray Basson en Giep van Zyl en René Arendse, onderskeidelik nasionale koördineerder en nasionale adjunk-koördineerder van die Afrikaans Amptelik 100-feesviering.

Brink het gesê dit is ʼn vreugde om te sien dat soveel mense die geleentheid bywoon omdat dit ʼn belangrike onderwerp vir die toekoms van Afrikaans is. Die saal het stampvol gesit met persone wat graag dié gesprek wou volg.

Die Afrikaans Amptelik 100-feesviering sal op 8 Mei 2025 ʼn hoogtepunt bereik waar die eeufees van Afrikaans as amptelike taal gevier word. Afrikaans is op 8 Mei 1925 naas Engels as amptelike taal in die land bekragtig.

Van Zyl het met sy spreekbeurt benadruk dat dit algemeen bekend is dat Afrikaans se reis al baie langer as net 100 jaar is en dit is belangrik vir die Afrikaans 100-veldtog om erkenning en blootstelling te gee aan dié ryk geskiedenis. “Ons is nie seker waar die taal presies begin het nie, maar ons hoop dat die reis nooit sal ophou nie. Die honderd jaar is tog ʼn mylpaal wat ons kan vier. Dit is ʼn kans om die kollig groter te maak: om elke instansie en persoon, wat lief is vir Afrikaans, plek te gee om in die lig te staan.”

Volgens Van Zyl is Afrikaans ʼn huis met baie kinders – en soms skuur en stoei die kinders, maar ons is almal steeds deel van een huis.

Arendse beaam dit en sê vir haar is die fees ʼn sentimentele projek. “Dit gaan oor die nalatenskap wat ons los. Dit is ʼn taal wat deur slawe geskep is, ʼn taal wat van kombuistaal tot universiteitstaal gegroei het. Ons kan saam eienaarskap neem van haar toekoms.”

‘Witmenstaal’

V.l.n.r. Martelize Brink, Melt Myburg en Earl-Ray Basson

Volgens Basson word slegs een groep van die spraakgemeenskap verteenwoordig in Standaardafrikaans. “Ons kan nie 100 jaar vier van die status wat Afrikaans geniet ten koste van die ander tale wat onderdruk is nie. Dit is politici wat Afrikaans verhef het tot die status wat dit geniet.”

Hy het spesifiek verwys na CJ Langenhoven wat beweer het dat Afrikaans die enigste witmenstaal is wat buite Europa ontstaan het.

“Ja, Afrikaans is ʼn huis met baie kinders, maar baie van daardie kinders staan nog buite. Vir wie vier ons? Wat vier ons?” wil Basson weet.

Hy meen Afrikaans kan nie as inklusief beskou word as bruin skrywers en digters se werk nog die minderheid van voorgeskrewe boeke op skool verteenwoordig nie.

Myburgh sê hy verwelkom enige projek wat taal en kuns bou en opbou, maar die probleem lê by die woord “amptelik” in die feesviering se naam en handelsmerk. “‘Amptelik’ beteken dat Afrikaans begin het toe parlementariërs die taal deurgestoot en Indiërs vervreem en hulle selfs terugverjaag het Indië toe. Dit was dieselfde mense wat Afrikaans as amptelike taal verklaar het, ten koste van ander tale of selfs dialekte in die land.”

Myburgh sê hy weet nie of die organiseerders van die Afrikaans Amptelik 100-feesviering oningelig of aspris is nie.

‘Geen politiek nie’

René Arendse en Giep van Zyl

Van Zyl en Arendse het benadruk dat die feesviering hoegenaamd nie ʼn politieke beweging is of by die politiek wil betrokke raak nie.

Myburgh meen egter dat geen taal in die land van die politiek geskei kan word nie. “Solank as wat ekonomiese ongelykheid voortduur, kan politiek nie daarvan losgemaak word nie.”

Myburgh het by die organiseerders van die Afrikaans 100-fees gepleit om eerder ʼn projek van stapel te stuur wat gratis toegang tot ʼn woordeboek op ʼn selfoon verseker vir elke kind, eerder as om geld te spandeer aan ʼn fees.

ʼn Goeie begin

Arendse sê gesprekke soos dié debat beteken dat die Afrikaans 100-feesviering reeds in die regte rigting beweeg. “Ons visie en ons missie en ons harte is op die regte plek. Ons wil graag plek om die tafel maak vir elkeen.”

Van Zyl voeg by: “Dit is nie ʼn vraag of ons verdeel of vier nie, ons wil verenig.”

By admin

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *