(Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Suid-Afrika is een van die lande met die meeste vroue in sy parlement en spog boonop met een van die mees progressiewe grondwette ter wêreld. Tog het die land nog nooit ʼn vrouepresident opgelewer nie.

Dit is ook onwaarskynlik dat die uitkoms van die nasionale verkiesing op 29 Mei dié stand van sake gaan verander.

Verder word net ʼn handjievol van die meer as 50 politieke partye wat in die verkiesing meeding, deur vroue gelei. Die vyf grootste partye het almal mans aan die stuur.

“Dit gebeur selde dat partye onder die beheer van vroue staan, slaag en volhoubaar is,” sê Colleen Makhubele, een van die min vrouepartyleiers. Sy was voorheen die speaker van die Johannesburgse metroraad en ʼn lid van Cope. Makhubele is nou in beheer van die klein alliansieparty South African Rainbow Alliance (Sara).

Wat parlementêre verteenwoordiging deur vroue betref is Suid-Afrika 11de op die wêreldranglys – net onder Swede en bokant Finland op die lys.

Vroue het ʼn groot rol in die stryd teen apartheid gespeel en beklee sedert die aanvang van die demokratiese bestel in die land in 1994 belangrike regeringsposte.

Byna die helfte van die land se staatsdepartemente – insluitend die departement van buitelandse sake en verdediging – word deur vroue bestuur.

Aktiviste vir vroueregte meen die rede vir die gebrek aan ʼn vrouepresident spruit uit ʼn wanbalans tussen die liberale uitkyk op demokratiese Suid-Afrika en die konserwatiewe samelewing.

Naas demokrasie is nie-rassigheid en nie-seksisme die kernwaardes van die land se demokratiese grondwet. Hoewel vroue as geskik geag word om aan die hoof van hul gesinne te staan, blyk dit egter dat vroue in Suid-Afrika steeds nie die voorkeurkandidate is om die land te lei nie.

ʼn Opname wat Ipsos in 2017 oor dié einste onderwerp van stapel gestuur het, beaam tot ʼn groot mate die siening dat ʼn vrou se “plek eerder tuis is”. Dit was juis die mening van een uit elke vyf respondente. Meer as 20% het aangedui dat mans beter politieke leiers maak.

“Vroue word dikwels oorgesien wanneer partyleiers verkies word,” sê Bafana Khumalo, mededirekteur van die nieregeringsorganisasie Sonke Gender Justice.

“Vroue word as belangrik geag, maar nie tot magsposisies verkies nie.”

Makhubele meen sy moes “twee keer harder” as haar manseweknieë werk om stemme te werf, finansiering te kry en in die media te beland.

Verandering tog sigbaar

Dit lyk of ingesteldhede egter tog gaandeweg verander.

ʼn 2020-meningspeiling deur die organisasie Women Deliver het gewys dat 90% van respondente dink geslagsgelykheid is belangrik.

Meer as 40% ondersteun regeringspogings om geslagsgelykheid in politiek te bevorder, terwyl 69% ten gunste van geslagskwotas is.

Die DA, Suid-Afrika se amptelike opposisieparty, het tussen 2007 en 2015 ʼn vroueleier (Helen Zille) gehad.

Dit is egter nie genoeg nie, sê politieke ontleder en skrywer Susan Booysen.

Volgens Booysen is daar sistemiese gebreke in politieke partye wat verhoed dat vroue die nodige bemagtiging en bevordering kry.

Partye loop dalk goue geleentheid mis

Só loop politieke partye dalk goue geleenthede mis, aldus sommige ontleders.

Meer as die helfte van geregistreerde kiesers in die land is immers vroue en word as kerndrywers van ondersteuning gesien.

“Hulle is die mense wat seker maak hul huismense gaan stem op stemdag,” sê Zama Khanyasa van die ANC-jeugliga.

Die nasionale verkiesing vind op 29 Mei plaas.

By admin

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *