“My nommer een noodsaaklikheid is om ʼn wen-Protea-span te skep,” het Rob Walter, afrigter van Suid-Afrika se witbalspanne, gesê op ʼn vraag oor die oorheersend wit groep wat vir die T20 Wêreldbeker-toernooi gekies is.
“Om dit te kan doen moet ek die beste span kies wat die beste kans het om dit te doen,” het Walter gesê op ʼn vraag oor die rassesamestelling van die groep, wat net een swart speler insluit.
Pholetsi Moseki, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, het aan Sport24 gesê die samestelling van die span wat Walter gekies het, is kommerwekkend maar het bygevoeg dat hy en Enoch Nkwe, direkteur van krieket, saamstem dat daar “krieketredes” vir die rassebalans is.
Die 15-tal vir die toernooi in die VSA en Karibiese Eilande van 1 tot 29 Junie is Dinsdag deur Walter aangekondig.
Nie sedert 2016, vir die T20-Wêreldbekertoernooi in Indië, was daar soveel wit spelers in ʼn Suid-Afrikaanse groep nie. ʼn Maand ná die 2016-toernooi het die destydse minister van sport, Fikile Mbalula, gesê KSA sal nie toegelaat word om te bie vir groot internasionale byeenkomste nie ná ’n verslag van ʼn regering-aangestelde komitee dat die pas van transformasie in die sport te stadig is.
Later daardie jaar het KSA aangekondig dat formele teikens vir rasseverteenwoordiging met onmiddellike effek ingestel sal word. ʼn Maksimum van vyf wit spelers kon in ʼn 11-tal ingesluit word en daar moes minstens twee swart spelers wees.
Moseki het gesê dat kwotas op binnelandse vlak – wat minstens drie swart spelers in ʼn beginspan vereis – daarop gemik is om ʼn groter poel swart spelers van internasionale standaard te verseker.
Hy het gesê teikens vir die nasionale span bly geld.
“Dit sou nie op net een toernooi gebaseer wees nie, maar soos Rob verduidelik het, was dit (die T20 Wêreldbeker-keuse) nogal ʼn uitdagende ding om te hanteer aangesien ons dit jare lank nie gedoen het nie.”
Walter het tydens die groepaankondiging aan joernaliste gesê hy kies geen groep sonder om dit eers met Nkwe te bespreek nie.
Nkwe het gesê KSA werk daaraan om transformasiedoelwitte te bereik voor die 2027 Wêreldbeker-kriekettoernooi (50 beurte) in Suid-Afrika.
“Ons het verskillende formate waar sommige spelers dalk sukkel en beter as ander kan slaag,” sê Nkwe. “Ons bevind ons in die moeilike situasie in T20-krieket.”
Walter het gesê hy hoop om meer swart spelers te sien deurkom.
“Die stelsel moet regtig die voorloper wees sodat die demografie en verteenwoordiging in ons span ʼn bietjie anders begin lyk oor ses maande, 12 maande of oor twee jaar, veral wanneer ons die 2027 Wêreldbeker tuis aanbied,” het Walter gesê.
