ʼn Wolf in skaapklere.
Só het oudpres. Thabo Mbeki sy omstrede opvolger oudpres. Jacob Zuma beskryf toe hy vandeesweek by Vryheidspark in Pretoria ʼn toespraak ter viering van 30 jaar van demokrasie gelewer het.
Mbeki het in sy toespraak nie direk na Zuma, wat nou die uMkhonto weSizwe (MKP)-party lei, verwys nie, maar gesê dat sy [Mbeki se] verwydering as president van die ANC by die party se nasionale verkiesingskonferensie in 2007 ʼn dramatiese agteruitgang in die regering tot gevolg gehad het.
Volgens Mbeki het dit boonop die “winste van die eerste 15 jaar van die land se demokrasie ongedaan gemaak”.
Hy meen sy herroeping as staatshoof in 2008 het tot ʼn verdere verswakking van die ANC gelei wat die weg vir ʼn “teenrewolusie” in die ANC gebaan het. Mbeki het in sy toespraak daarop gesinspeel dat Zuma deel was van dié sogenaamde rewolusie en apartheidsagente wat die ANC ná 1994 ingedring het.
Mbeki sê hierdie agente se werk het al in 2002 begin met die besluit om die ANC se leierskapstruktuur te verander, wat in dié stadium deur Mbeki gelei is.
In oënskynlike kritiek op Zuma se nege jaar lange ampstermyn as president het Mbeki gesê een van die teenrewolusie se grootste doelwitte was om te sorg dat die ANC in sy taak misluk om Suid-Afrika behoorlik te regeer.
Hy het spesifiek melding gemaak van Zuma se “pogings om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te vernietig” en onder meer verwys na die Nugent-kommissie van ondersoek na die SAID, gelei deur afgetrede regter Robert Nugent, asook die Zondo-kommissie se verslag oor staatskaping.
“Volgens dié regterlike kommissies het ons hier ʼn staatshoof wat betrokke raak by ʼn proses om die einste inkomste te verminder wat hy nodig het om die regering in staat stel om sy pligte na te kom – tot op die punt van die moontlike ineenstorting van daardie regering.
“Hoe verduidelik jy so iets? Die enigste logiese manier is dat ons hier met ʼn wolf in skaapklere te make het.”
As ʼn mens só daaroor dink, sê Mbeki, is dit eintlik nie verrassend dat so ʼn “wolf” by pogings betrokke sou wees om die SAID te vernietig nie aangesien dit juis die doelwitte van die teenrewolusie onderskryf.
“Tyd sal leer of hierdie logiese afleiding wel korrek is.”
Mbeki het verder gesê dat pres. Cyril Ramaphosa op aanbeveling van die Nugent-kommissie opgetree het toe hy die destydse hoof van die SAID, Tom Moyane, met Edward Kieswetter vervang het. Sake by die SAID het daarna weer aansienlik beter begin verloop.
Oor Eskom en die jare lange kwessie van beurtkrag het Mbeki gesê daar is ʼn “valse narratief” dat die regering van voor 2007 waarskuwings van kundiges verontagsaam het dat indien geen dadelike stappe gedoen word om nuwe opwekkingskapasiteit te genereer nie, die land van 2007 ernstige beurtkrag sou ondervind.
Hy meen die beurtkrag wat die land in 2007 en 2008 ervaar het, en waarvoor hy destyds om verskoning gevra het, was heeltemal onnodig en is van binne Eskom veroorsaak. Hy meen dit het niks met enige regeringsmislukkings te doen gehad nie.
“Eskom-stasiebestuurders het eenvoudig opdragte verontagsaam om hul steenkoolvoorraad aan te vul totdat dit heeltemal opgeraak het. Dit was ʼn doelbewuste poging om die voorsiening van elektrisiteit in gedrang te bring,” het Mbeki gesê.
Die teenrewolusionêre rolspelers het volgens Mbeki probeer om dieselfde verbrokkeling by instellings soos die Nasionale Vervolgingsgesag, die polisie en departement van gesondheid te veroorsaak.
Kritiek ten spyt is Mbeki egter steeds vol vertroue dat die ANC ná die verkiesing op 29 Mei die mees dominante politieke party sal bly.
Hy het ook nie vertroue in die party se vermoë verloor om die land te regeer nie, het hy gesê.
