Anco Barker (Foto: Facebook)

Nóg ʼn lid van die VF Plus – hierdie keer ʼn raadslid – het bedank oor sekere klousules in die party se grondwet.

Anco Barker, ʼn voormalige DA-raadslid in Mosselbaai wat minder as ʼn jaar gelede by die VF Plus aangesluit het, sê dié party se grondwet fokus uitsluitlik op die bevordering van Afrikanerbelange.

Barker, wat na haarself as ʼn wedergebore Christen verwys, sê ander gemeenskappe word in die grondwet uitgelaat op grond van hul taal- en kulturele erfenis. “Aangesien God die skepper van alles is, kan ek my nie skaar by ʼn party wat sekere mense uitsluit nie.”

Barker sê sekere klousules in die VF Plus se grondwet weerspreek dié party se godsdienstige beginsels. Dit sluit in artikel 18 wat onder meer lees dat Afrikanervolkseenheid bevorder moet word.

Barker is ook ongemaklik met artikel 19 wat bepaal dat die sogenaamde gevegsvlag van die voormalige Boererepublieke, tans bekend as die Vryheidsvlag van die Afrikaner, die amptelike vlag van die VF Plus is.

“Ek kan nie ʼn simbool onderskryf wat ongelykheid en onderdrukking verteenwoordig nie,” het sy gesê.

Barker sê hoewel sy politieke partye se keuses respekteer, sy nie “uitsluiting” op grond van kultuur en ras goedpraat nie.

Volgens die VF Plus steek daar egter meer agter die besluit.

“Anco het deelgeneem aan die plasingsprosedure vir die komende verkiesing en het nie hoë posisies op die party se lyste bereik nie. Dit is nie toevallig dat sy nou, nadat sy nie goed gevaar het in die plasingsproses nie, skielik ʼn probleem met die grondwet van die party het en dit aanvoer as die rede vir haar bedanking,” sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en nasionale woordvoerder van die party.

Barker se bedanking volg kort ná dié van adv. Lennit Max.

Maroela Media het Woensdag berig Max stem ook nie saam met die VF Plus se grondwet nie en sê hy kan hom nie met die party se grondwet vereenselwig óf met ʼn skoon gewete bruin en swart mense vra om die VF Plus te ondersteun nie.

Max, eens ʼn spesiale raadgewer van die minister van polisie, verwys spesifiek na die party se doelstelling wat onder meer lui dat die VF Plus onherroeplik verbind is tot die verwesenliking van veral die Afrikaners se reg op selfbeskikking, asook die handhawing, beskerming en bevordering van hul regte en belange.

Hy sê dit blyk uit artikel 3 van die party se grondwet dat die Afrikaners se reg op selfbeskikking voorkeur kry bo dié van enige ander gemeenskap.

Die VF Plus ontken egter dat sy grondwet uitsluitlik op die bevordering van Afrikanerbelange fokus en dat daar geen voorsiening gemaak word vir die beskerming en bevordering van die regte van enige ander gemeenskap nie.

“Dit is onwaar dat die VF Plus persone of gemeenskappe uitsluit op grond van ras en etnisiteit. Alles behalwe. Die groeiende steun wat die party vanuit verskillende gemeenskappe ervaar, spreek daarvan,” sê Wessels.

Hy sê die toename in diverse kandidate en verkose ampsbekleërs dien ook as bewys van die party se inklusiwiteit.

“Die VF Plus het ʼn beleid en manifes wat oplossings bied en waarby verskillende gemeenskappe aanklank vind.

“Anco verwys na sekere artikels in die grondwet van die party buite konteks en noem nie dat die dele waarna sy verwys die stigtingsgrondslag is nie. Die party is in 1994 gestig. Oor die drie dekades het die politieke spektrum verander. Die waardes en beleidstandpunte van die party het standvastig gebly terwyl die party wel namate die omstandighede verander het, die nodige natuurlike evolusie ondergaan het.”

Volgens Wessels is die party se doelstelling reeds in 2013 aangepas ter bevordering van inklusiwiteit en die regte van alle gemeenskappe. “Die stigtingsgrondslag was wel die grondslag en kan nie verander word nie.

“Anco is ook verward oor watter vlag daarna in die grondwet verwys word. Sy verstaan die vlag, die herkoms daarvan en die simboliek, verkeerd,” sê Wessels.

By admin

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *