Steve Hofmeyr. (Foto: verskaf)

In 1986 het sy eerste treffer, “Laaste lag”, Suid-Afrikaanse klankgolwe getref, en vandag, bykans 40 jaar later, kan gehore steeds nie genoeg van Steve Hofmeyr kry nie.

Dié 59-jarige “Pampoen”-sanger het die naweek sy 40ste jaar in die musiekbedryf gevier met ʼn massiewe Steve Doen-vertoning by die Voortrekkermonument.

Derduisende mense het tou gestaan om vier dekades van Steve se musiek saam met hom te vier.

“Die idee van Steve Doen Steve was om 40 jaar in die bedryf te vier, maar vanaand was ek verras om te sien dat mense ná al die jare steeds luister na my musiek,” het Steve na die afloop van die vertoning gesê.

“Ek het besef daar is sekere liedjies wat onsterflik is en al wat ek kan sê, is dankie.”

Dié vertoning volg op die wegholsukses van die eerste Steve Doen-konsert, Steve Doen A Beautiful Noise, waartydens hy sy gunsteling- Neil Diamond-liedjies gesing het.

Steve Doen was vanjaar ʼn sterbelaaide verjaarsdagvertoning, en Steve het die Amfiteater-verhoog gedeel met sangers soos Pieter Smith, Armand Hofmeyr, en Alouise en Ralph Michielsen, wat saam met Steve in sy eerste musiekgroep Dusk gesing het.

Renaldo, Alba V en Nadia Vorster, Elme Churr en Jemma Catherine het ook ‘n draai op die verhoog gemaak.

Daar was ook ʼn paar verrassings, met Jannie Moolman wat die aand die verhoog betree het om saam met Steve sy gewilde “My liefie my lyfie, my diefie my duifie” te sing, en Nelmari wat die gewilde Don Williams-treffer “Amanda” saam met hom gesing het.

Pieter Smith, wat ook bekend is daarvoor dat hy saam met Steve die treffer “Agter Elke Man”, jare nadat dit oorspronklik opgeneem is, gesing het, vertel dat dit vir hom ʼn eer is om die groot mylpaal saam met Steve te kon vier.

“Vanaand is ʼn lekker fees hier in die mooiste stad by die mooiste monument in die land. Dit is werklik ʼn eer om die loopbaan van een van die beste sangers in Afrikaans hiér by een van die beste Afrikaanse monumente te kan vier,” sê hy.

Henk Maree van die Voortrekkermonument sê dit is vir die monument ʼn riem onder die hart om Steve  twee jaar in ʼn ry hiér te kon verwelkom met sy Steve Doen-vertonings.

“Steve was nog altyd  ʼn groot ondersteuner van die monument, tog het die naweek bewys dat daar steeds duisende mense is wat glo in die Afrikaanse kultuur en geskiedenis, en dít gee mens baie hoop,” sê Henk.

Steve het die aand afgesluit en sy dank uitgespreek aan elke ondersteuner wat sy 40 jaar lange loopbaan moontlik gemaak het.

“Hier by ons monument, ons baken van hoop, kan mens nie anders as om dankbaar te voel nie. Ek weet eintlik nie hoe om dankie te sê nie, maar as ek my 40 jaar doodeenvoudig moet opsom: ‘Dankie dat jy vir jou kinders dié liedjies gespeel het’.”

By admin

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *