Renosters by die Addo Nasionale Olifantpark is nou veiliger danksy kunsmatige intelligensie (KI) wat dié diere se gedrag monitor. Die gebruik van die KI-bande word as baanbrekerswerk bestempel in die voortdurende stryd om renosters te beskerm.
JP Louw, woordvoerder by SANParke, verduidelik dat slim halsbande ʼn renoster se gedrag deur middel van algoritmes monitor en in noodgevalle ʼn kennisgewing met die dier se ligging genereer.
Dít maak doeltreffende, intydse ondersoeke en reaksie op moontlike stropingsaanvalle moontlik.

Die soort gedrag wat deur algoritmes gemonitor word, sluit in gevegte, paring, renosters wat kalf en vrektes.
Volgens Louw het die park tans 31 slim halsbande wat deur verskeie aandeelhouers geskenk is.
Hy sê sonder die volgehoue ondersteuning van Addo se bewaringsinisiatiewe sal dit nie moontlik wees om hierdie bedreigde spesie te beskerm nie.
Skenkers sluit welwillendheidsorganisasies soos Stop Rhino Poaching, Animal Survival International (die Brody Hunter-stigting), Dancing for Rhinos en ander organisasies soos Tocoforce en Rouxcell Technology in.
Die park is sowat 30 km buite Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) in die Oos-Kaap geleë, en huisves die Groot Vyf in ʼn gebied wat oor 180 000 ha strek.